'n Afrikaanse swerwer [2] is 'n vlinder, Catopsilia florella, en behoort tot die familie van Witjie-skoenlappers (Pieridae). In Engels staan dit bekend as die African migrant.
Dit kom voor in Afrika suid van die Sahara, insluitend Senegal, Gambië, Guinee-Bissau, Guinee, Mali, Sierra Leone, Liberië, die Ivoorkus, Burkina Faso, Ghana, Togo, Benin,[3] Nigerië, Niger, Kameroen, Ekwatoriaal Guinee, Bioko, Gaboen, die Kongo, Angola, Sentraal-Afrikaanse Republiek, die Demokratiese Republiek van die Kongo, Tsjad, Soedan, Ethiopië, Uganda, Rwanda, Burundi, Kenia, Tanzanië, Malawi, Zambië, Mosambiek, Zimbabwe, Botswana, Namibië, Suid-Afrika (al nege provinsies), eSwatini, Lesotho. Ook in Madagaskar, Réunion, Mauritius, Comore-eilande, die Seychelle (eiland van Aldabra), Arabië.
Dit kom ekstralimitaal voor in die Kanariese Eilande (sedert die 1960's), Egipte, Israel, Libanon, Indië (volgens Larsen (2005a) waarskynlik nie hier 'n inwoner nie) en Sri Lanka (soos Indië, nie 'n inwoner hier nie).[4]
Die Afrikaanse swerwer kom voor in die meeste habitatte, uitgesluit digte bos, woestyn en ysige bergsones. Dit blyk dat die wye habitat-toleransie waarskynlik te danke is aan die migrasiekarakter van die spesie. Werklike broeibevolkings kom waarskynlik meestal voor in die droë en vogtige savannesones, want dit is waar die larwe se gasheerplante voorkom.[4]
Soos die algemene naam aandui, is die vlinder 'n swerwer. Die vlug is kragtig, direk en 'n paar meter bo die grond. Mannetjies se kleur is wit en wyfies kan wit of geel wees.[5] Albei geslagte voed op blomme en mannetjies word dikwels by modderpoele gesien.
Migrasies in Suider-Afrika is gewoonlik in 'n noordoostelike rigting en vind hoofsaaklik gedurende middel- tot laatsomer plaas. Geel wyfies oorheers oor die wit wyfies in die migrasies wanneer dit in die herfs voorkom. Die bron van die migrasies in Suider-Afrika is vermoedelik Boesmanland, in die gebied suid van Kenhardt, maar meer navorsing is nodig. Wanneer hulle nie migreer nie, is albei geslagte se vlug lukraak.[4]
'n Afrikaanse swerwer is 'n vlinder, Catopsilia florella, en behoort tot die familie van Witjie-skoenlappers (Pieridae). In Engels staan dit bekend as die African migrant.